"Ek is kalmer vandag!"
My man en God is by my...
En dan ontwaak ek weer soos 'n klein babatjie en alles is nuut. MY sig is dof vir 'n oomblik, maar dan sien ek alles wat in my lyf gebeur het. Dis lewensveranderend. Ek is moeg en tranerig.
My lyf is seer en diep dink ek dinge wat nooit eers my gedagtes gekruis het nie. Die kruis, God se kruis...Dan besef ek weer, alles is in Sy hande.
My eetlus is weg en ek dink vir 'n oomblik dit kan nie slegter met enige mens gaan nie, want ek het nou kanker en kanker is nou my nuwe lewe dan sien ek die vrou wat langsaan my bed op haar eie ingeboekte hospitaal bed sag rus... haar been gaan afgesit word. Die dame oorkant my kry kos deur 'n pypie, want die kanker het haar slukderm geblok.
Ek is so hartseer vir hulle.
Dan roep ek uit: "HERE! Hoe groot is my God!"
Dit maak nie saak of ek wit, bruin, swart, pienk of geel is nie... Pyn is vir almal dieselfde, ek wens nie meer nie, want ek WEET wat ek weet en sjoe ek is stil stil diep seer tevrede,
Na 'n paar dae in die hospitaal kan ek nou uiteindelik huis toe gaan, na my bed toe waar ek die veiligste voel. My lyf en sagte siel is eweskielik in 'n oogwink verskillende wesens. Ek is nou bang ek maak ander seer saam met my seer, want ek wil net rus en veilig wees tussen die sagte wit lakens van God se Koninkryk.
Ek is nou anders, ek kan nie meer net vinnig opstaan en net vinnig kos maak nie. Net vinnig, net gou, net eweskielik NIKS.
Dit maak my siel seer om my kinders so te hoor en so te sien. My meisiekind bel my nou, nie meer om te vertel hoe lekker alles is nie, maar sy is nou so hartseer, die diep hartseer. My hart breek saam met haar, want sy is nog net kind en ek wens ek kon haar net troos en vashou en sag sus todat sy slaap soos toe sy nog my poniestert dogtertjie was. My seun is stil, maar eks seker Hy praat met ons Vader. En nou huil almal en ek raak weg tussen die sagdoek lakens en van voor af raak ek verlief op my man soos toe ons nog jonk was. Ek verstaan nou na jare se LIEFDE, wat LIEFDE werklik is. Hy was my elke aand met die lewende water en soos dit oor my liggaam rol is ek in my naakheid getrou aan God se beloftesband tussen my en my man en ek sal ALTYD wees. My man reining my menslikheidsvel en sonder om te gril of vra te vra trek hy my aan en ek is so dankbaar.
Ek gaan nou rus en sag en snoesig en warm langs my man verdwyn in die Godelike droom wereld waar alles weer heel is en die volgende dag, weer sekonde vir sekonde aanpak...
..
No comments:
Post a Comment